Hoe om hierdie boek te gebruik

Dag 1: Voorstelle hoe om hierdie boek te gebruik

’n Reismetgesel
Hierdie boek is ’n storiemaakkursus aangebied in die vorm van ’n dag tot dag reis, ’n binnereis. “Skryf” is ’n eensame reis. (Leef is ’n eensame reis?) Hierdie boek kan ’n reismetgesel wees.

’n Ervaring
Die boek is vol inligting, praktiese raad, verskillende soorte skryfoefeninge en baie meer. Baie van die raad en advies wat vir voornemende skrywers gegee word, is maklik om te verstaan, maar moeilik om toe te pas.

Goeie raad en advies het gewoonlik net ’n blywende effek wanneer dit geabsorbeer word en deel word van ons lewens, wanneer jy dit herken as dinge wat jy eintlik geweet het, maar net nie voorheen bewustelik kon herroep nie. Dit is soos wanneer ’n mens ’n nuwe woord ontdek en jy binne ’n paar dae daardie spesifieke woord orals sien of hoor! Dit werk mos so! Hoekom? Omdat jy nou bewus is van die woord.

Sien en hoor ons wat ons wil (moet?) sien en hoor?

Doen soos jy moet
Lees wát jy wil, wánneer jy wil, dink daaroor of ignoreer. Nes jy wil! Dis nou jou boek!

Maak vir jou ‘n notaboek vol van jou eie aantekeninge en kommentare. Of vul ’n folder met verskillende files op jou rekenaar.

Dit maak vir my sin om antwoorde onder die verskillende storie-elemente te groepeer, maar doen nes dit vir jou goed voel. Ons is elkeen anders. Ek weet nie waar jy op hierdie dag, wat jy hierdie woorde lees, in jou lewe is nie. Net jy sal dit weet.

Sien jou as ’n karakter, selfs al wil jy nie werklik skryf met die doel van publikasie nie en verken jou lewe of lewensmoontlikhede op ’n storiemanier.

Doen soos jy moet!

Wees kreatief
Vind jou eie maniere hoe om hierdie boek te benut. Indien jy reeds stories het waaraan jy werk, gebruik byvoorbeeld die boek om jou karakters verder te verken.

’n Wisselwerking
Laat die woorde in hierdie boek vir jou ’n wisselwerking word. As jy nie saamstem met wat ek kwyt raak nie, stry! Maar doen dit weer eens met woorde, sodat jy bladsye geskrewe stukke in die proses versamel.

As jy wil “skryf” voel jy dalk oorweldig deur die groot niks. Jy kan miskien in jou kop interessante stories dink, maar die oomblik as jy dit begin neerskryf, voel dit nie “reg” nie, of ander mense kritiseer, jy vorder nie, of die bladsye bly leeg. Dan ontwikkel daar dikwels weerstand wat ’n mens laat stol. (Skrywersblok!)

Hierdie storiemaakkursus kan jou help om bladsye vol te maak vir latere gebruik.

Jy moet natuurlik soveel dae as wat jy wil op ’n “dag” spandeer.

Skryf alle gedagtes en reaksies wat by jou opkom neer! ’n Mens dink jy sal dit onthou, maar jy vergeet!
________________________________________
◄►Skryfopdrag 1: Wat dink jy nou? (Beantwoord, as jy wil en sit die datum by, as jy wil.)
________________________________________

Motivering vir skryfopdrag 1
Dit sal dalk interessant wees om later na die begin terug te kan kom.

Reg en verkeerd
Vanselfsprekend het die skryfopdragte nie “regte” of “verkeerde” antwoorde nie.

Wisselwerking met mede-skrywers
Jy sal dalk ervaar dat jy baie graag jou antwoorde met iemand wil deel. Probeer mense kry wat jou belangstelling in skryf en stories deel en ruil antwoorde uit en bespreek. Die internet met sy gratis blogblaaie bied wonderlike geleenthede vir individue of groepe mense.

Indien groepe dit mondeling doen, moet julle onthou om daarná (of tydens die gesprek) aantekeninge te maak. Ons hoor en praat baie woorde. Probeer soveel as moontlik op skrif kry om later weer nader te hark en dalk êrens in ’n storie te gebruik.

Gepubliseer on Oktober 2, 2009 at 10:06 vm  Comments Off  
Follow

Get every new post delivered to your Inbox.